Einder

Elisabeth Eybers

Einder

Eindelik verby die drentelgrens
van hul twee eensaamhede haal
hy haar, sy hom, weer in en wens
verwonderd om nooit af te dwaal:

hul dae ’n herhalende begin
’n wisseling van vergesigte waar
versperring nie bespeur word, alles glim,
verrassend skoongewas en klaar.

Tog, in ’n aanval van omsigtigheid
– ons leer algaande ons perke ken, sê hy –
herinner hul mekaar aan eindigheid.
En sien die einder weer vergly.